Ons Storie, Ware Liefde &
Die Hart Van Huisves
my passie vir interieurontwerp as ‘n uitdrukking van liefde.
Ek en Stephen kom albei uit gebroke huwelike, albei met kinders. Baie dae het ek myself baie kwalik geneem dat ek my kinders daardeur gesit het. Opnuut, as die duiwel hierdie in my kop sit, herinner God my daaraan dat dit nie is hoe jy val wat saak maak nie, maar hoe jy opstaan.
Jare terug het iemand eendag vir my gesê: Onthou, as jy nie foute maak nie, het jy niks om van te leer nie…
Liefde is vir my een groot keuse. Jy kies elke dag om daardie persoon lief te hê, goed te wees en goed te behandel.
Ek en Stephen het mekaar 12 jaar terug ontmoet nadat ons albei eintlik so ‘n bietjie gebroke was. Party mense sal sê mens moet nie dán in ‘n verhouding gaan nie—wel, ons het!
Nie in ons wildste drome het ons egter gedink ons sou nog ‘n kind hê nie, en voilà, daar bless die Here ons met die ongelooflikste seuntjie.
Ek het altyd gesê ek hoop ek sal my kinders kan wys dat ‘n geslote, liefdevolle huwelik wel kan bestaan…
Die huwelik, en veral so ‘n gekompliseerde huwelik, is nie altyd maklik nie, maar genade is onbeskryflik groot!
Hierdie jaar vier ons ons 10de huweliksherdenking in Augustus, maar omdat dit ook my verjaardag en die studio se verjaardag in Augustus is, het ek goed gedink om juis in die maand van liefde hierdie nuusbrief te doen.werp as ‘n uitdrukking van liefde.
Elmanda
Gewoonlik vra ek my span om nuusbriewe in die middel van die maand uit te stuur. Min het ek geweet my buurvrou en vriendin gaan van ons weggeskeur word, en nou weet ek hoekom die brief nie vroeër uitgegaan het nie.
Ek wou die hele brief skryf oor my en Stephen se liefde vir mekaar, en moet my nie verkeerd verstaan nie, dit is belangrik, maar Len en Elmanda se liefde was soos iets wat ons net op Netflix sien. My hart is stukkend vir Len—ek het geen woorde vir hom nie. Maar Elmanda en haar liefde gaan mense nog jare van hier af leer wat ware liefde is—’n liefde wat bo-natuurlik sterk was en wat saam met Jesus vasgewerk was. Mense wat, as ek na hulle gekyk het, nes Jesus gelyk het en nes Jesus was.
Die wonderlike voorbeeld dat ware liefde altyd sal seëvier, dat dit wel bestaan, dat dit krag het en dat dit Goddelik is.
Elmanda, ons was lief vir jou. Hierdie is die liefdesmaand, en sy is weg in hierdie maand, maar haar gees sal altyd bly voortlewe. Haar liefde en voorbeeld van liefde sal ewig staan.
Dit is presies hoekom ek, wanneer ek interieur- of dekorraad aan kliënte gee—veral nuwe kliënte—altyd vra: Wat is jou doel met jou behoefte?
Jy moet tog jou huis mooi maak uit liefde daarvoor. Oor die feit dat jy jou huismense liefhet. Omdat jy jouself liefhet!!
En bo alles, omdat ons ‘n God van liefde dien, en Hy gee hierdie mooi goed vir ons, sodat ons dit ter ere van Sy Naam kan doen en geniet.
Die Hart Van Huisves
Ek het ‘n neutrale palet en hou baie van natuurlike elemente, maar dit kan ook soos liefde lyk as jou hart daarin is, nes rooi!
Doen jouself die guns dat, volgende keer as jy aan jou huis of dekor dink, of dalk iets mooi wil gee of doen, jy dit met liefde as jou basis doen.
Stephen sal alles vir my doen. Hy sal alles vir Donald en my kinders doen!! Hy gee graag en deel mildelik uit. Ek is bevoorreg om baie lesse by die man wat ek liefhet, te leer.
Ek hoop julle maand van liefde was mooi en geseënd.
En indien jy, soos Len en Elmanda se geliefdes, groot hartseer in jou lewe ervaar, mag die Here jou vertroosting bring.
Isabel Brown, Brown Design Group